Sy draai weg van sy speurende blik, en saam kyk hulle af op die dal wat voor hulle tussen die berge lê. Die vroeë son maak dit nog geler, maar dit is 'n sagte geel. Die lang gras buig biddend in die effense wind. In die kloof agter hulle fluit 'n fisant. Dit is 1844. Die pioniersplaas Skuilhoek, waar Vryheid en Magriet uitstaar oor die wuiwende veld, is drie uur te perd van Potchefstroom se skaars meer as twintig huise. Die wêreld is ongetem en nuut; van reg en orde is daar nog kwalik...
Hy word met ’n riem op die werf aangesleep. ’n Seun. ’n Vreemdeling. Van balans af op sy lomp voete, die slaphandhoed diep tot op sy bakore getrek, rooi in die gesig van die riem om sy nek. Die mense wat hom staan en aangaap, is nie vreemdelinge gewoond nie. Hier waar hulle woon, het niemand vantevore gewoon nie. Hul leier het hul trek ’n jaar of ses gelede tot hier gelei, met sy velskoen se hak in die grond gekap, sy groot hand besitlik gewuif en die gebied tot sy eiendom verklaar. Hier is sy...