Lans werk by ’n hotel langs die nasionale pad, naby die Hardapreservaat in Suidwes. Dis sy werk om vir Jesha, die kameel, op te pas. Eers was sy vir almal ’n aardigheid, maar nou staan sy verwaarloos, jaarin en jaaruit in die bloedige son – ingehok in ’n kampie. Niemand gee vir haar om nie, net Lans. Elke middag, wanneer sy werkies klaar is, gaan hy op die hitte van die dag stap. Ná die goeie reëns staan die gras sag soos pluis, nie groen nie maar groenwit, en rooierig en effens pers. Aan die...