Sewe is die getal van heiligheid, van voltooiing en vervulling, ’n volmaakte sirkel. Gilbert Gibson se vierde digbundel is ’n konfrontasie met die simboliese lading van hierdie getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer. Die verse verbeeld konkreet dat die poësie begin waar taal verbrokkel; dat die letterkunde juis ontspring uit die verbystering van sinne.
Die titel van Gibson se vyfde bundel verwys na die Vrystaatse ruimte waarin die digter grootgeword het en steeds woon, maar dit dui ook op die ontglippende aard van betekenis, selfs te midde van die alledaagse ervaring van die gesinslewe, die spreker se lewe as mediese dokter en sy jeugherinneringe. Soos in Gibson se vorige bundels is daar gedigte wat intense intellektuele betrokkenheid eis voor dit die leser ryklik beloon, maar daar is ook heelwat gedigte wat onmiddellik tref, en liefdesgedigte...